Die Studiegidse en –strategieë-webblad is deeglik nagevors
deur die outeur en bied sedert 1996 ’n gratis internasionale,
leerder-gesentreerde, opvoedkundige diens aan die publiek.
Die volgende studiemetode kan jou 'n akkurate
persepsie gee van hoe goed jy die
materiaal onder die knie het en verder forseer dit jou om oor die
werk te dink, eerder as net daaroor te kyk.
Hersien jou notas en leeswerk gereeld, sodat die materiaal
"vars" bly.
Soos wat jy deur die teks lees, of jou notas hersien, dink
self vrae uit oor die materiaal. Verbeel jou dat jy die
kursus doseer. Watter vrae sou jy in die eksamen vra?
Skryf enige terme neer wat jy moet ken.
Skryf elke term of vraag op die rugkant van 'n
indekskaartjie.
Op die voorkant van die indekskaartjie skryf jy die
antwoord, of 'n verduideliking van die vraag of term
neer.
Gebruik jou notas en die teks
as verwysing, maar formuleer die antwoord of
verduideliking sover as moontlik in jou eie woorde.
Skommel die indekskaartjies (sodat jy nie die antwoorde
kan bepaal op grond van die plek van die kaartjie in die
pak nie)
Kyk na die boonste kaartjie in die pak: probeer om die
vraag te beantwoord of die term te verduidelik. As jy dit
kan antwoord, wonderlik! Plaas dit aan die onderkant van
die pak. As jy dit nie kan beantwoord nie, kyk na die
antwoord en plaas dit terug in die middel van pak sodat
jy later daarna kan terugkeer.
Vorder so deur die hele pakkie indekskaarte totdat jy
alles ken.
'n Paar wenke:
Dra jou kaarte saam met jou waar jy ookal gaan. Gebruik elke
paar minute wat opduik. Toets jouself waar jy in 'n tou moet
wag, op die bus ry, ens.
As jy dink dat jy die antwoord ken, maar dit nie in jou eie
woorde kan formuleer nie, ken jy die antwoord waarskynlik nie
goed genoeg nie. Die enigste manier waarop jy sal weet dat jy
die inligting ken, is deur dit in jou eie woorde te
formuleer. Dit is ook die beste manier om enige toetsangs te
verminder of te verhoed.
Toets jouself iewers waar niemand jou kan sien (en dink jy
is stapelgek) nie, en sê die antwoorde hardop. Dit is die
beste manier om seker te wees dat jy die antwoord kan
verduidelik.
Studeer saam met 'n klasmaat. Julle kan idees uitruil en
mekaar help om konsepte te verstaan. Julle kan ook die
antwoorde vir mekaar opsê, om seker te maak dat julle die
antwoorde goed genoeg ken.